6 June 2012

Die Rolverdeling

Enige iemand wat al ooit in 'n groep dinamika verkeer het sal vir jou kan vertel dat daar in elke groep verskillende rolle is. Elkeen belangrik in sy eie reg, en nodig vir die groep as geheel om te kan funksioneer. Soos ratte in 'n masjien. Bestandele in 'n resep. Kokke in 'n kombuis...
As laasgenoemde nie vir jou iewers 'n rooi liggie laat brand nie, wens ek jou alle vreugde toe in die saligheid van jou onbewustheid.

Die rolverdeling in 'n kombuis.
  • Chef de Cuisine (Executive Chef) - In ons geval die Vervaardiger (Producer)
  • Sous Chef (Under Chef) - In ons geval die Produksie Bestuurder (Production Manager)
  • Chef de partie (Station Chef) - In ons geval die verskillende departementshoofde (HOD's)

Hulle kan dan verder opgedeel word as
  • Kuns Departement
  • Produksie Departement
  • Tegniese Departement
  • Draaiboek Departement
  • Na-Produksie Departement
  • en wat ookal jy daarvan kan afsonder, waarvoor jy iemand spesifiek het om na om te sien.

Al ooit van die engelse uitdrukking gehoor: "Too many cooks spoil the broth."?

Fantasties, jy't jou span. Hulle het elkeen hulle spanne en nou gaan ons kook. Sjefs staan almal gereed by hul poste, die gaste tree die restaurant binne en neem hulle sitplekke op. Die kelners loop uit en kom terug met duisend papiertjies en hier gaan ons.

Eersten lê al die aandag op die draaiboek departement. Ons eie Skryf Sjef. Hy is, saam met die Vervaardiger Sjef die enigste mense tans besig met werk en so sit die res hulle en aankyk. Wat gebeur met 'n klomp kreatiewe siele wat vir een kreatiewe siel sit en kyk? Hulle oordeel. Hulle oordeel alles. Dit is die Vervaardiger Sjef se werk om seker te maak niemand meng in met die Skryf Sjef se proses nie. Want hierdie is stasie een waar jou dis kan flop. En om so vroeg te flop is nooit 'n goeie idee nie. Nie net het die ander sjefs geen idee wat in die Skryf sjef se proses aangaan nie, hulle beskik meestal ook nie oor die nodige vaardige om enigsins hulp aan te bied nie. En oor daar vele meer aanskouers en opinies gelig word, sal die skrywer sjef altyd in die minderheid wees en die oorspronklike idee sterf net daar 'n pasgebore kalfie dood.  Hou jou sjefs apart!

Jou vervaardiger het daarin geslaag om jou sjefs apart te hou, nou begin die span werk. Almal het hulle draaiboek en is elkeen apart aan die gang met sy eie sake. Nou peuter niemand meer met iemand anders se prosesse nie, want almal is besig met hule eie. En hier is wat die vervaardiger chef briljant maak. Nie net moet hy seker maak dat elke sjef sy deel van die dis voorberei nie, maar hy moet ook seker maak dat dit saam 'n perfekte dis gaan maak. Net hy is bewus van wat elke sjef maak en net hy sal optel as daar twee sjefs is wat iets teenstrydig maak. Dan moet hy ook die skrywer sjef uit die produksie uit hou. Die arme sjef is tog so bekommerd hulle belemmer sy resep. Hou jou sjefs apart!

Die begin proses is suksesvol. Nou vir die voltooing van die dis, als word aanmekaar en bymekaar gesit om 'n perfekte dis te maak, elke sjef het insae maar die reggisseur is nou die baas. Dis waaroor dit gaan. Dis die vervaardiger se werk om seker te maak NIEMAND STRY MET DIE REGGISSEUR NIE.

Daarna word die sousies en die garnering opgesit. Die redigerings departement is gewoonlik taamlik afgesonder van die hele kombuis. Dis nie vreeslik moeite om hulle af te sonder van die res van die sjefs nie, maar dit is nie minder nodig nie.

Ek wil hê jy moet mooi verstaan.
Demokrasie is nie heeltemal funsioneel as vyf wolve en 'n skaap moet stem oor wat vir aand ete is nie. Jy kan ook nie dat vier motor werktuigkundiges en 'n dokter besluit oor hoe om 'n blinde derm te verwyder nie.

Elke sjef het sy stasie, en dis wanneer hulle probeer inmeng in die ander stasies wat jou kombuis gaan vou in 'n reuse teël en stainless steel mengelmoes.
Hoe gebeur dit?
Die grootste probleem kom in by die "Ag, help gou-gou hier."
'n Span moet weet wanneer om aktief te wees, en wanneer om te los, en as almal saam sit om een iemand te help, hou in gedagte dat hy dan die Hoof Sjef is. Jy help hom, hy vra nie vir jou om die keuse te maak nie.

Jy sal nooit groei kan verwelkom as jy nie elke sjef laat om sy eie stasie ten volle te bemeester nie, en elke sjef kan slegs doen waarmee hy goed is, as jy hom beskerm van 'n kombuis vol ander denkendes. In pleks daarvan om in te gryp as iemand die wortels verkeerd kerf, wys hom, en laat hom dan weer aangaan daarmee. As iemand die sop te dik aanmaak, wys hom hoe jy dit doen, maar laat hom ook toe om vir jou te verduidelik hoe en hoekom hy dit so doen. Dis dalk beter so.

Dis maar my stukke vir die week.


Tot volgende keer, ek's Sjef H-Que.
Een, twee, drie blog myself.

No comments: