5 June 2012

Alles kos iets.

Mits jy dit groei, betaal jy vir alles. Niks is verniet nie, alles kos op die einde van die dag wel iets. Nou dink jy "Nee dit doen nie. Ek kry baie dinge verniet." Dan sê ek vir jou, nee jy doen nie. Jy betaal vir alles.


Voorbeeld 1
'n Pragtige maat by die werk stel duidelik belang in jou, maar jy's nie vreeslik mal oor hom nie. Hy bied aan om jou een aand uit te vat vir ete. Hy betaal. Jy sê ja. Hoekom nie? 'n Heerlike aand uit, gratis kos. Kan mos nie seer maak nie. FOUT!
Eerstens is jou heerlike aand uit nie net 'n heerlike aand uit nie, maar dis ook 'n date. Altans in sy oë is dit. Wat beteken dit vir jou? Dit beteken jy't iemand aangelei. Jy't seine uitgestuur wat jy later oor spyt gaan wees. Veral as die man in skerwe voor jou lê en sy hart uitstort, en jy kan nie verstaan hoekom hy so voel nie.
Dieselfde tel vir jou Produksiehuis. As iemand aanbied om vir jou toerusting te "leen", sonder enige betaling, raak bang. Net soos die aantreklike kantoor kêrel verwag dat jy 'n verhouding met hom sal koester in die toekoms, aangesien jy belang stel om kos saam hom te verorber, so ook verwag besighede wat gratis besigheid gee dat julle besighede lank in vennotskap gaan besryf. Moenie ontsteld raak as jy hiervoor geval het nie, meeste mense doen. Moet ook dan nie sê dat jy nie verstaan hoekom sekere besigheid nou kwaai werk met jou en moeilik trek nie.

Voorbeeld 2
'n Fotograaf glo jy is ongelooflik pragtig en bied aan om te betaal vir jou nuwe borste. Wat?! (Hierdie is 'n uiterste geval om 'n andersins baie eenvoudige voorbeeld te verduidelik). 'n Musiek fundi glo jy het 'n stem van 'n godin, en betaal vir 'n make-over en foto sessie. Hoe ookal, mense wat glo jy is briljant (en nie ophou of skaam voel om dit oor en oor te herhaal nie) het gewoonlik 'n plan.
Die fotograaf betaal vir jou nuwe borste, en 'n paar weke na jy herstel het wil hy jou gratis gebruik in 'n fotosessie waar jy effe meer as 'n enkel porsie sushi dra. Wat maak jy nou. Jy moet, die man het vir jou borste betaal.
Die musiek fundi platebaas doen jou make-over en nou het hy sê oor watse tipe musiek, saam wie, en in watter uitrustings jy dit sal moet opvoer.

Wees bang vir gratis! Pasella is net oulik as mr De Villiers dit aanbied!

Voorbeeld 3
Jy't 'n ongelooflike kontrak losgeslaan, jy vervaardig jou eerste groot produk. Hetsy 'n musiek video, 'n advertensie, 'n rolprent, maak nie saak nie. (In ons geval was dit 'n musiek video.) Die begroting laat jou terug verlang na jou hoërskool sakgeld, maar jy het fantastiese idees en jy gaan hierdie ding laat werk. Jy het 'n geheime wapen. Jou varsity pêl is 'n GFX programeerder en hy sal vir jou gratis graphics doen. Yes! Jy werk jou konsep uit, goedgekeur. Jy lê jou produksie rooster aan die klient voor, goedgekeur. Jy kry jou budget en jy begin skiet asof oorlog om die draai lê. Die shots is in die kan, die editing gaan briljant, die gradering kan nie beter lyk nie. Nou oor aan daai pêl van varsity. Oops. Hy't 'n "paying gig" gekry en sal nie kan begin met jou projek tot na die sperdatum nie. Jammer.
Wat kan jy doen?
Netso kan dit ook gebeur (en het dit ook met ons gebeur) dat die ou wat jou gratis toerusting belowe het 3 dae voor die skietdatum die vermoë om 'n telefoon te beantwoord verloor.
Wat kan jy doen?
Ewe skielik is daardie reeds miniskule begroting nie genoeg om 'n wins vanaf te trek nie.
WEES BANG VIR GRATIS!!!
Ek kan nog 'n paar voorbeelde noem van hoe gratis dinge jou 'n gratis hol kramp sal verdien, maar ek dink bogenoemde voorbeelde skets die prentjie taamlik volledig. Onthou dat jou resep so sterk is soos jou swakste bestandeel. As jy jou bestandele gaan koop is jou dis 'n wenner. As jy afhanklik is van liefdadigheid kan jy nie aandring op hoë gehalte nie, en sal jou dis minder smaaklik afgaan. As jy slim wil wees, groei jy jou eie groente en kruie. Dit eet bietjie van die wins totdat dit uiteindelik gereed is, maar ten minste weet jy jy hoef nie ander mense in die oë te kyk vir dit wat jy nodig het nie. En so kan jy ook afslag werkies doen. (Dis ons beter benaming vir "Low Budget").

Kyk voort en skiet Noord.

Tot volgende keer.
Ek is Sjef H-Que.
Een, twee, drie blog myself.

No comments: